Nou is dit wa voor die perde inspan

Nou is dit wa voor die perde inspan

Dit is nou behoorlik die wa voor die perde inspan. Vragmotorbestuurders weet nie van die verbod van die gebruik van die B2 kuspad vir swaarvoertuie vir die feesseisoen nie, want hulle word nie by die uitgange van Walvisbaai of Swakopmund voorgekeer en ingelig nie. Die gevolg is swaarvoertuie daag van beide kante by die padblokkade op die kuspad naby Afrodite Beach op en dit is dan reeds te laat, want die swaartvoertuie kan nie omdraai nie.

Lede van die publiek rapporteer daagliks dosyne swaarvoertuie op die kuspad, en dit terwyl die verbod reeds om middernag 16 Desember in werking getree het. Dit sal van krag bly tot 17 Januarie, maar indien die polisie nou sy sokkies optrek nie, sal honderde swaarvoertuie nog steeds die kuspad gebruik en die verbod sal nie veel meer werd wees as die papier waarop dit geskryf is nie.