Dis “derby”- tyd môre op Kudu park wanneer Kudus en Walvis mekaar pak Era en West coast Sharks raak slaags

Die jarelange tweestryd tussen die twee plaaslike rugbyklubs word môre op die spits gedryf wanneer Kudus en Walvis Baai se eerste en tweede spanne in die eerste liga wedstryde van die jaar teen mekaar te staan kom.

“Derby” wedstryde tussen die twee klubs is altyd kliphard en fisies en môre s’n gaan geen verskil wees nie. Kudus oorheers die tweestryd vir etlike jare al, maar draf môre nie as gunstelinge op om daarop voort te bou nie. Talle spelers het besluit die gras is groener aan die oorkant van die pad en by die Dorpspan aangesluit. Alhoewel Kudus nie naastenby dieselfde kwaliteit spelers as laas jaar het nie, kan Walvis Baai hul regmaak vir ‘ n wedstryd soos min. Soos almal weet niemand kom by die “ Huis van Pyn” en dink hy gaan ‘ n maklike wedstryd hê nie. Terwyl van die oud Kudu spelers wat by Walvis aangesluit het vir jare die helde van talle jongelinge in die gemeenskap was, kan hul verwag dat hulle alles behalwe as helde môre op Kudu Park ontvang sal word.
Terwyl van hulle wel bietjie simpatie kan verwag, is daar enkeles wat geen simpatie van die tuisskare kan verwag nie. Terug by die wedstryd en dis veral voorlangs waar Kudus die wind van voor gaan kry. Walvis beskik oor ‘n massiewe en beweeglike pak voorspelers wat vir Kudus die lewe hel kan maak. Sou die tuisspan egter in die skrums en dryfmaal bewegings hul man kan staan, behoort dit ‘n baie gelykop stryd te wees. Agterlangs het Kudus ‘n bloedjonk agterlyn wat, alhoewel hulle vir die eerste keer as ‘n span saamspeel, hope spoed het en al oor en oor bewys het dat staal nie dikte nodig het nie. Seniors soos Grandt Nash, Craig Swartz , Richard Forbes en Enzio Kotzee sal môre moet hand opsteek en aan die voorpunt van alle bewegings moet wees om die minder ervare voorspelers aan te vuur, want dat ‘n vuurwarme stryd voorlangs gaan woed is daar geen twyfel aan nie. Agterlangs is Charlton Stevens Rayton Paulse en Percy, Nash alhoewel nog op jeugdige ouderdom tesame met Michael Hummel die senior manne wat die wa deur die drif moet trek. Die jongspan soos Ulriato Lawrence, Paulo Andrews en Zane Williams is egter propvol talent en kan nie wag om los gelaat te word nie.
Die eerste wedstryd skop af om 13:30 wanneer Walvis 2 en Kudus 2 opdraf terwyl die 1 ste spanne om 15:15 die veld vat. Net daarna om 17:00 kom ERA en die West Coast Sharks se derby aan die beurt en ook die wedstryd beloof vir groot opwinding.
Die Sharks se groter voorspelers gaan beslis voorlangs hul gesag wil afdwing. Sou ERA egter hul man kan staan voorlangs kan ook die West Coast Sharks hul klaar maak vir ‘n lang agtermiddag, want agterlangs beskik Era oor hope talent wat enige span aan flarde kan ruk. Hul aggressiewe inklimspel is ook een van hul groot sterkpunte. Kudus nooi sy getroue ondersteuners uit om môre die tuisspanne tot oorwinnings te kom aanmoedig. Kudus draf môre seker met sy onervaarste span in baie jare op, maar is nietemin oorgehaal om môre sy rou talent ten toon te stel.
Soos hulle sê, die name op papier mag goed lyk maar die wedstryd word op die veld gewen ………vra maar die Bulle. Toegangsgeld vir môre is N$20 per volwassene N$10 per skolier en N$10 per motor. Verversings sal te koop wees.

Comments are closed.